Marico-sterre, Marico-maan, Marico-bemindes 

Posted on May 03, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast

deur Herman Charles Bosman

Daar is ’n vreemde betowering omtrent die maan wanneer hy vol is – het oom Schalk Lourens opgemerk – veral die maan wat oor die vallei van die Dwarsberge in die somernagte hang. Dit doen eienaardige dinge aan die gees, die Marico-maan, en in jou hart is daar wilde en geurige fantasieë, en jou gedagtes sweef baie ver weg. Dan, as jy daar op jou voorstoep sit, en hierdie gedagtes bepeins, sug jy en prewel iets oor die weg van die wêreld, en dra jou stoel binnekant toe.

Ek het die maan al op ander plekke gesien en nie net in die Marico nie, maar dis nie dieselfde op ander plekke nie.

Braam Venter, die man wat van die regeringslorrie afgeval het, daar naby Nietverdiend, sê dat die Marico-maan soos ’n vrou is wat groen blomme op ’n graf lê. Braam Venter sê dikwels sulke dinge. Vernaamlik sedert daardie tyd toe hy van die lorrie afgeval het. Hulle sê dat hy op sy kop geval het.

Altyddeur, wanneer die volmaan só skyn, doen dit iets aan ons harte, waaroor ons ons baie verwonder en wat ons nooit verstaan nie. Altyddeur wek dit herinneringe op. En dit is eienaardig hoeveel verskillende herinneringe elkeen van ons koester.

Johannes Oberholtzer sê dat die volmaan hom altyd aan een geleentheid herinner toe hy beeste oor die Betchuanalandse grens gesmokkel het. Hy sê dat hy nooit na ’n volmaan kyk sonder om terug te dink aan hoe dit op die staal draadkniptang in sy hand geskyn het toe twee berede polisiemanne na hom toe aangery gekom het. En die volgende nag kon Johannes Oberholtzer weer die volmaan goed beskou; hy het daarna gekyk deur die venster van die plek waarin hy was. Hy het gesê dat die maan baie groot en baie geel was, behalwe dat daar swart strepe voor die maan was.

En dit was in die lig van die volmaan wat oor die doringbome gehang het, wat ek Drieka Breytenbach gesien het.

Drieka was lank en slank. Sy het blonde hare en blou oë gehad, en baie mense het haar beskou as die pragtigste vrou in die Marico. Ek het ook so gedink, daardie aand toe ek haar onder die volmaan by die doringbome ontmoet het. Sy was nog nie vir baie lank in die Bosveld nie. Haar eggenoot, Petrus Breytenbach, het haar in die Schweizer-Reneke-distrik ontmoet en met haar getrou, toe hy gedurende die groot droogte vir ’n rukkie met sy beeste daarheen getrek het.

Agterna, toe Petrus met sy eie Mauser deur ’n werker op sy plaas doodgeskiet is, het Drieka teruggekeer Schweizer-Reneke toe en het sy só die Marico, net so vreemd en stil as wat sy daarheen gekom het, verlaat.

En vir my was dit asof die Marico ’n ander plek was, want Drieka Breytenbach was nie meer daar nie. En ek het aan die maan gedink, en hoe hy met jou sintuie die poets bak, en die stormagtige betoweringe wat hy na jou siel toe slinger. En ek onthou weer wat Braam Venter gesê het, dat die volmaan soos ’n vrou is wat groen blomme op ʼn graf lê. En dit het vir my gelyk dat Braam Venter se woorde, alles in ag genome, nie soveel onsin is nie, en erger dinge kan met ’n man gebeur as om op sy kop van ’n lorrie af te val.

En ek het aan ander aangeleenthede gedink.

~

Uit Veld Maiden
 

“Ek het haar weer gesien, oom Schalk,” het hy gesê, “ek het haar laasnag gesien. In lieflikheid sonder weerga. Net so om en by middernag. Sy het sagkens oor die veld na my tent toe gekom. Die nag was warm en lieflik, en die sterre was verspot en vol sang. En daar was sagte musiek waar haar wit voete aan die gras geraak het. En soms het dit gelyk of haar mond gelag het en soms was dit treurig. En haar lippe was baie rooi, oom Schalk. En toe ek my arms na haar uitgesteek het, het sy weggegaan. Sy het in die maroelas verdwyn, soos die fluistering van die wind. En daar was ’n gelui in my ore. En in my hart was daar ’n groen geur, en ek het gedink aan die bleek, onverganklike affodille wat in die velde van die paradys groei.”

“Ek weet nie van paradys nie,” het ek gesê, “maar as ’n ding soos daardie in my mielieland groei, sou ek hom daar en dan uitgetrek het. Ek hou nie van hierdie spookagtige nonsies nie.”

Ek het hom goeie raad gegee. Ek het hom gesê om op sy hoede te wees vir die maan, wat juis toe amper vol was. Omdat die maan vreemde dinge met jou in die bosveld kan doen, veral as jy in ’n tent woon en die maan is hoog bo in die lug en daar is spookagtige skadu’s tussen die maroelas.

~

Uit Mampoer
 

Die bessies van die kareeboom (het oom Schalk Laurens gesê, en met sy kop in die rigting van die hoë bome, waarvan die skadu’s na die rant van die stoep gekruip het, geknik) mag nie die beste soort mampoer wat daar is, maak nie. Wat ek bedoel is dat kareebrandewyn nie so sterk soos die brandewyn is wat jy van moepels en maroelas stook nie. Selfs perskebrandewyn, so sê hulle, kan ’n mens die roes in die koring gouer laat vergeet as die mampoer wat jy van kareebessies maak.

Die kareemampoer is wit en sag om na te kyk, en die walmpies wat uit die bottel kom wanneer jy die prop uittrek, is bleek en styg met stadige kronkels boontoe. En in droogtetye, wanneer jy die hele dag by die boorgat gestaan en water vir die beeste gepomp het, sodat, teen die aand, die water vir jou bitter gesmaak het, dan is dit heel behaaglik om op die voorstoep te sit, soos nou, en om iemand te kry om die prop uit die bottel van daardie soort mampoer te trek. Jou hande sal seer en styf wees van die pomp se handvatsel, soveel so, dat as jy probeer om prop uit te trek, dit sal voel asof dit net so diep in die bottel as die water in die boorgat is.

Baie jare gelede toe ek ’n jongman was, en ek hier op die voorstoep gesit het, en die wit rook stadig en grasieus uit die bottel se bek met ’n wasemrige geurigheid sien wegdryf het, het ek gedink dat die rook soos ’n jong meisie gelyk het, wat gesluierd onder die sterre gewandel het. En nou dat ek oud geword het, en na die wit rook kyk, stel ek my voor dis ’n jong meisie wat onder die sterre loop, steeds gesluierd.

Ek het nooit uitgevind wie sy is nie.

~

Uit Starlight on the Veld
 

“Gedurig, op ’n helder aand, wanneer ek daardie ry sterre sien skitter, kyk ek vir ’n lang ruk na die onderste ster, en dit lyk of daar iets baie vriendeliks is aan die manier wat dit skyn. Dit lyk of dit my ster is, en sy lig is anders as die lig van die ander sterre … jy weet, Schalk, Annie Steyn het sulke rooi lippe gehad. En sulke lang, sagte hare, Schalk. En daar was daar daardie glimlag van haar.”

Daarna het die sterre dof geraak en ons het aanstaltes gemaak om die donkies aan te keer en reggemaak om te vertrek. En ek het gewonder wat Annie Steyn daarvan sou gedink het, as sy geweet het dat, gedurende daardie jare, daar hierdie man was, wat opgekyk het na die sterre op aande wanneer die lug skoon was, en gedroom het van haar lippe en haar hare en haar glimlag. Maar toe ek daaroor gepeins het, het ek gou ook geweet wat die antwoord was. Natuurlik, Annie Steyn sou niks van Jan Ockerse gedink het nie. Niks nie.

En, sonder twyfel, sou Annie Steyn reg wees.


Next

Previous