Rumpole Oor Aftreding

Posted on November 23, 2017 by Cape Rebel

Uit Rumpole and the Reign of Terror 
deur John Mortimer

 

So baie sake gewen en verloor, so baie klein sigaartjies gerook, so baie geleenthede toe dit gelyk het of ’n koue windvlagie tussen myself en my vrou Hilda (aan my slegs bekend as Sy Wat Gehoorsaam Moet Word) gewaai het, soveel koppies Old Bailey garnisoen-koffie angstig opgedrink terwyl gewag was vir die jurie om terug te keer met ’n beslissing, so baie verbysterende kruisverhore – die kuns van kruisverhoor is nie die kuns om te kruisig met die verhoor nie, maar die rustige taak om ’n getuie hoflik na ’n noodlottige toegewing te lei. So baie bottels Château Thames Embankment het gekom en gegaan sedert ek ’n wit pruik was en na roem gewip het as gevolg van my optrede in die Penge Bungalow saak, waarin ek ’n oorwinning behaal het, alleen en sonder ’n leier, dat ek soms nie my geluk kan glo nie deurdat ek ’n lewe so relatief sonder ’n oomblik van verveeldheid ervaar het.

Nou ja, my pruik is nie slegs ’n donkerder skakering van grys nie, maar dit het ook ’n soort van vergelingsproses by die wortels ondergaan. Ek is egter nie, dank die Here, in enige soort van aftreding gedwing nie. Ek voel besonder jammer vir diegene wat nie na die Balie toe geroep was nie. Hulle word op ’n vroeë ouderdom gedwing om af te tree, om op ’n onuitdagende Surrey-gholfbaan aan verveeldheid te sterf, terwyl ek aan die gang kon bly, bekend aan baie as “Rumpole van die Bailey”, en ek kan in ’n pruik doodgaan, hoe dit ookal vergeel het, gekleed in ’n toga, hoe ookal uitgerafeld, en so effektief optree soos – ek hoop julle sal daarmee saamstem – ek opgetree het in wat vir baie mense ’n “skrikbewind” was.

As ek nou daaraan terugdink, was ek, heel verspot, minder bevrees om ’n handvol antraks, in Pommeroy se Wynkroeg, in my gesig te kry, of om in ons kamers in Equity-hof, in opdrag van al-Qaeda, opgeblaas te word, as vir ’n venynige, boosaardige regter, of Sy Wat Gehoorsaam Moet Word, se voortdurende afkeuring.

~

Soos al die ander kamers in die Temple, het Equity-hof Nr. 4 ’n lys in die ingang gehad wat aan kriminele, egbreeksters of ander belangstellende lede van die publiek, aangekondig het watter advokate beskikbaar was om hulle met hulle probleme te help. Die hoof van ons Kamers, Samuel Ballard QC, se naam het boaan die lys gestaan, maar as die oudste inwoner, was Horace Rumpole se naam boaan die lys van al die ander.

Toe ek een oggend vroeg vir werk gerapporteer het, het ek – tot my groot verbasing – gevind dat kartonrepies oor die hierdie wit bord geplak was, wat ons name heeltemal uitgewis het. Soapy Sam het met die geleentheid reg agter my gestaan, en ek het dit vir hom uitgewys om sy verduideliking te hoor.

“Terroriste, Rumpole!” Hy het gepraat asof dit voor die hand liggend was.

“Bedoel jy terroriste het gekom en karton oor ons name geplak?”

“Nee, nee. Ek het die karton daar geplak. Ja wel, eintlik het ek ons klerk, Henry, gevra om dit te doen.”

“Mag ek jou vra met watter doel in gedagte?”

“As die terroriste te wete sou kom dat hiérdie die kamers van ’n welbekende advokaat is, laat ons sê, een van die leiers van ons professie, mag hulle in die versoeking kom om ’n bom in die gebou te los. Natuurlik sou dit ’n triomf vir hulle wees om so ’n persoon te vermoor.”

“Dis baie gaaf van jou, Ballard, om sulke voorsorgmaatreëls om my ontwil te tref. Ek mag ’n sekere mate van berugtheid verwerf het deur verskeie sensasionele oorwinnings en ’n lang loopbaan in die Old Bailey, of in sulke wydgestrekte kriminele howe soos Snaresbrook of die London Sessions, maar ek twyfel sterk daaraan of dit vir al-Qaeda die moeite werd sou wees om so ’n woeste terroriste aanval op my te maak.”

“O, nie op jou nie, Rumpole. Verseker nie jy nie.” Soapy Sam was besig om tot sy gewone irriterende self terug te keer. “Ek veronderstel nie enige terroris sou hom ophou met ’n junior nie, hoe oud en berug hy ookal mag wees, wat nooit ’n senior advokaat geword het nie. Maar om ’n toonaangewende QC en ’n senior verteenwoordiger van ons befaamde geregtelike stelsel op te blaas, soos …”. Dit het gelyk of hy vir ’n naam gesoek het, toe het hy sy eie naam onthou. “Wel, byvoorbeeld, soos ek myself, sou vir al-Qaeda ’n ware pluimpie wees.”

“Komaan! Kyk op,” het ek ons leier aangeraai. “Ek glo nie Bin Laden het al ooit van jou gehoor nie. Ek glo nie jou naam sou ooit in die moskees van Afghanistan genoem word nie.”

“Ek glo nie enigeen van ons het die vaagste benul nie,” Soapy Sam se glimlag was star en stram, “wat in ’n terroris se kop aangaan nie. Gaan jy nou maar in, Rumpole, en Luci Gribble sal jou ou portmanteau deursoek. Ons kan nie te versigtig wees nie.”

En so het ons redelik onlangs aangestelde Direkteur van Bemarking en Administrasie in my sak, wat ek met my verdienste van die Penge Bungalow Moorde gekoop het, gegrawe en ’n skatkis ontdek wat bestaan het uit ’n paar groot en skoon sakdoeke, ’n buisie van Suck-Us-N-C hoeslekkers, ’n verflenterde kopie van The Oxford Book of English Verse (die Quiller-Couch uitgawe), ’n versameling van penne en potlode, ’n groot notaboek, en die opdrag in Regina v Timson, met besonderhede van Haar Majesteit se jongste aanval op net nog ’n lid van daardie verhewe familie.

Dáár was nou nog ’n groep onvermoeide werkers wat geen waarde gesien het in die woord “aftrede” nie. Hulle was die vele lede van daardie eerbiedwaardige clan van Suid-Londense boewe, wat gepleeg het wat bekend geraak het as – in hierdie tydvak van dwelms, messtekery en afpersing – “gewone, ordentlike misdaad”. Daar was min of geen geweld in die Timson-verslae nie, slegs reëlregte inbraking en betreding, diefstal, en die ontvangs van gesteelde eiendom. Dit was nie soos die Molloys nie – hulle wedywerende familie in daardie geweste, wat ’n spoor van gewonde, soms vermoorde burgers, en persone wat afhanklik was op eksotiese kruie, agter hulle gelaat het.

Ek moet erken, as ek eerlik wil wees, dat die dag-tot-dag finansiering van die Rumpole-huishouding, met Hilda, wat haar oorgee aan sulke luukse items soos meubelpolitoer, Fairy Liquid, skropborsels en Vim, aansienlik gerek sou wees as die Timson-familie dit ooit op hulleself sou neem om af te tree.


Next

Previous