Uit The Music-Maker
deur Herman Charles Bosman
Natuurlik weet ek van geskiedenis – het oom Schalk Lourens gesê – dis die goed wat kinders in die skool leer. Dit was net nou die dag, by Thys Lemmer se poskantoor, dat Thys se klein seuntjie uit sy geskiedenis boek gelees het van ’n man met die naam Vasco da Gama wat die Kaap besoek het. Dadelik het Dirk Snyman vir jong Stoffeltjie begin vertel van die keer toe hy self die Kaap besoek het, maar die jonge Stoffel het hom nie veel aan Dirk Snyman gesteur nie. En Dirk Snyman het gesê: “Daar het jy dit nou.”
~
Ja, dis ’n snaakse ding, om graag in die geskiedenis te probeer kom.
Vat byvoorbeeld Manie Kruger se geval.
Manie Kruger was een van die beste boere in die Marico. Hy het presies geweet hoeveel perskebrandewyn om vir die belastingsinspekteur te skink om te verseker dat hy dromerig sou kopknik op alles wat Manie te sê gehad het. En in ’n tyd van droogte kon Manie Kruger vinniger as enige man wat ek ooit geken het, regering toe hardloop vir hulp.
Toe het Manie eendag in die Kerkbode ’n artikel oor ’n musikant gelees wat gesê het dat hy meer van musiek af geweet het as Napoleon. Daarna – ná hy eers ’n ander artikel gelees het om uit te vind wie Napoleon was – was Manie Kruger ’n ander persoon. Hy kon oor niks anders praat as sy plek in die geskiedenis en van sy loopbaan in musiek nie.
Natuurlik het almal geweet dat niemand in die Marico by Manie Kruger kon kers vashou wanneer dit gekom het by die speel van die konsertina nie.
Geen bosvelddans was volmaak sonder Manie Kruger se konsertina nie. Wanneer hy ’n vastrap gespeel het, kon jy nie jou voete stilhou nie. Maar ná hy besluit het om daardie soort musikant te word wat in die geskiedenis boeke sou beland, was die manier wat Manie Kruger verander het, vreemd. Een ding wat hy gesê het, was dat hy nooit weer op ’n dans sou gaan speel nie. Daaroor het ons almal baie treurig gevoel. Daar sou perskebrandewyn in die kombuis wees, en in die voorkamer sou die voete van die dansers deur die stappies van die schottische en die polka en die wals en die mazurka gaan, maar op die riempiesbank in die hoek waar die musikante gesit het, sou daar geen Manie Kruger wees nie. En hulle sou “Die Vaal Hare en die Blou Oge” en “Vat Jou Goed en Trek Ferreira” gespeel het, maar dit sou iemand anders se vingers wees wat oor die knoppieklawers van die konsertina gevee het. En dan, met die gedansery en die perskebrandewyn, sou die jongkêrels uitroep: “Dagbreek toe,” en dan sou dit nie Manie Kruger se kop wees wat met die applous knik nie.
Dit was hartseer om oor al dié dinge te dink.
Manie Kruger was vir só lankal die belangrikste musikant by die bosvelddanse.
En vir almal wat bedroef was oor die verandering wat Manie ondergaan het, kon ons sien dat niemand meer bedroef was as Lettie Steyn nie.
En af en toe het Manie sulke vreemde dinge gesê. Een keer het hy gesê dat wat hy moes doen om in die geskiedenis te kom, was om in die arms van ’n prinses aan tering te sterf, soos ’n ander musikant van wie hy gelees het. Maar dit was moeilik om aan tering in die Marico te sterf, want die klimaat dáár was so gesond.
Hoewel Manie opgehou het om sy konsertina op danse te speel, het hy op ’n ander manier dikwels gespeel. Hy het begin om, soos hy gesê het, uitvoerings te gee. Ek het verskeie van hulle bygewoon. Hulle was indrukwekkend.
By die eerste uitvoering wat ek bygewoon het, het ek gesien dat daar in die voorste deel van Manie se voorkamer twee rye banke en stoele geplaas is. Dit het hy van sy bure geleen wat nie omgegee het om hulle etes op kersbokse en omgekeerde emmers te geniet nie. Aan die verste kant van die voorkamer is ’n wye groen gordyn aan ’n stukkie lyn opgehang. Toe ek ingekom het, was die plek vol. Ek het daarin geslaag om op ’n bank tussen Jan Terblanche en ’n jong dametjie met ’n blou kappie op, in te skuif. Jan Terblanche het probeer om die jong dametjie se hand vas te hou.
Manie Kruger het agter die groen gordyn gesit. Hy was alreeds daar toe ek ingekom het. Ek het geweet dit was Manie aan sy velskoene wat onder die gordyn uitgesteek het. Lettie Steyn het voor my gesit. Af en toe wanneer sy omgedraai het, kon ek sien dat daar ’n blos op haar gesig en ’n uitdrukking van groot opwinding in haar oë was.
Uiteindelik was alles gereed, en Joel – die plaasarbeider aan wie Manie die taak opgedra het – het stadig die groen gordyn oopgetrek. ’n Paar van die jongkêrels het uitgeroep: “Middag ou Manie,” en Jan Terblanche het gevra of dit nie te beknop en bedompig was om so daar agter die stuk groen gordyn te sit nie.
Toe het hy begin speel.
En ons almal het geweet dat dit die mooiste konsertinamusiek was waarna ons nog ooit geluister het. Dit was Manie Kruger op sy beste. Hy het lank vir hierdie uitvoering geoefen; sy vingers het oor die knoppies gevlieg; die klanke van die konsertina het ons harte geroer, en Manie Kruger se musiek het ons uit die voorkamer weggevoer na ’n vreemde, ryk en stralende wêreld.
Dit was puik.
Die toejuiging gedurende sy optrede was wonderbaarlik. Aan die einde van elke stuk, het Joel die gordyne voor Manie toegetrek en ons moes vir ’n paar minute sit en wag totdat die gordyne weer oopgetrek is. Maar ná die eerste keer was daar nie weer gelag oor dié handelswyse nie. Die voordrag het vir omtrent ’n uur en ’n half aangehou, en die applous aan die einde was selfs groter as aan die begin. En gedurende daardie negentig minute het Manie net een keer opgestaan. Dit was toe daar een of ander probleem met die gordyn was, en hy opgestaan het om vir Joel ’n skop te gee.
Aan die einde van die voordrag het Manie nie vorentoe gekom om met ons hande te skud soos ons verwag het nie. In plaas daarvan het hy agter die groen gordyn weggeglip kombuis toe, en vir ons laat weet dat ons hom daar agter kon besoek. Ons het eers gedink dat dit ’n bietjie snaaks was, maar Lettie Steyn het gesê dat dit só reg was. Sy het verduidelik dat in ander lande al die groot musikante en verhoogkunstenaars hulle bewonderaars agter die verhoog ontvang het. Jan Terblanche het gesê dat as daardie akteurs hulle kombuise gebruik het om hulle besoekers in te vermaak, het hy gewonder waar hulle hul kokery gedoen het.
Nietemin het die meeste van ons agter na die kombuis toe gegaan, en dit terdeë geniet om Manie geluk te wens en met hom blad te skud. En Manie het baie te sê gehad oor sy musikale toekoms, en die segetogte wat hom in die groot stede van die wêreld sou beval, en hoe hy voor die gordyn sou staan en in erkenning van die toejuiging sou buig.
Daarna het Manie nog ’n paar ander uitvoerings gegee. Hulle was almal ook net so besonder uitstekend. Maar omdat hy die heel dag moes oefen, kon hy nie veel aandag aan sy boerdery gee nie. Met die gevolg dat sy plaas tot niet gegaan het en hy in die skuld geraak het. Die balju het gekom en beslag gelê op die helfte van sy beeste terwyl hy besig was om vir sy vierde voordrag te oefen. En hy was besig om vir sy sewende voordrag te oefen toe hulle gekom het om sy ossewa en muilwa te vat.
Uiteindelik, toe Manie Kruger se musikale loopbaan daardie stadium bereik het dat hulle sy ploeg en die laaste van sy beeste gevat het, het hy wat oorgebly het van sy besittings verkoop, die bosveld verlaat en die pad gevat na daardie groot stede toe waarvan hy so baie gepraat het. Die afskeidsgeleentheid was ’n pronkerige affêre. Beide die predikant en die lid van die volksraad het toesprake gelewer oor hoe trots Transvaal was op hulle vermaarde seun. Toe het Manie daarop geantwoord, maar in plaas daarvan om sy gehoor te bedank, het hy begin om ons van voor tot agter sleg te sê en uit te kryt as ’n klomp boewe en siellose Filistyne, en gesê hoe hy ons verafsku het.
Natuurlik was ons besonder verras deur hierdie uitbarsting, want ons was altyd gaaf en vriendelik teenoor Manie, en het hom soveel as moontlik aangemoedig. Maar Lettie Steyn het verduidelik dat Manie nie regtig die dinge wat hy kwytgeraak het, bedoel het nie. Sy het gesê dat dit só was dat daar van alle groot kunstenaars verwag was om op daardie manier te praat oor die plek waarvandaan hulle gekom het.
Ons het dus geweet dat dit reg was, en hoe meer beledigend die dinge was wat Manie oor ons gesê het, hoe harder het ons geskree: “Hoor, hoor vir Manie.” Daar was ’n besonderse entoesiastiese applous, toe hy gesê het dat ons soveel van kuns af weet soos ’n boomslang. Sy taalgebruik was vuriger as enigiets wat ek al ooit gehoor het – behalwe een keer. En dit was toe De Wet gesê het wat hy gedink het van Cronje se oorgawe aan die Engelse by Paardeberg. Ons kon voel dat Manie se toespraak die ware Jacob was. Ons was daardie dag hees van al die toejuiging.
En só het Manie toe vertrek. Ons het een brief gekry wat gesê het dat hy Pretoria bereik het. Maar daarna het ons nie weer van hom gehoor nie.
Maar altyd wanneer Lettie Steyn van Manie gepraat het, was dit soos ’n kind wat van ’n droom gepraat het, so half hunkerend, en altyd, met die stem van ’n verlangende kind, het sy my vertel hoe hy eendag, eendag sou terugkeer. En menigmaal het ek haar met sononder op die stoep sien sit, al starende uit oor die veld tot laat in die aand. Sy het in die stowwerige pad afgekyk na waar dit deur die doringbome en anderkant die Dwarsberge verdwyn het – al wagtende vir die minnaar wat nie weer na haar toe sou terugkeer nie.
Dit het lank geneem voor ek Manie Kruger weer gesien het. En toe was dit in Pretoria. Ek het daarheen gegaan om ’n onderhoud te voer met die volksraadslid oor ’n verkiesingsbelofte. Ek het Manie heel per ongeluk gesien. En hy het die konsertina gespeel – en ek het gedink dat dit net so mooi soos altyd was. Ek het gou weggegaan.
Maar wat my baie vreemd aangegryp het, was net daardie een vlugtige blik wat ek gekry het van die groen gordyn van die kroeg agter Manie Kruger, daar waar hy gespeel het.
Next →
← Previous